Stanley Cierenberg is ’n storieverteller in murg en been, gebore in die Vrystaat – tussen berge, sandklip en die geheime van die kranse. Dis daar waar hy sy voete geplant het, en waar sy liefde vir stories ontwaak het. In die stilte van daardie landskap het hy leer skryf – nie net vir homself nie, maar vir die wêreld.
Hoewel ’n landbouskool hom nie kon tem nie, het hy juis daar ontdek hoe om in stories te leef; hoe om te ontsnap na ’n plek van magie binne homself. Sy pen is gewortel in stilte en lig – en wanneer die wêreld stil raak, kom die stories uit hul skuilplekke en word lewe.
Stanley het al verskeie werke gepubliseer en boeke geskryf, maar dis die ou tyd, die oeroue natuur, en sy liefde vir die Cierenberg-familie wat sy skryfwerk dra. Hy glo dat elke mens ’n engel het. Syne se naam is Stilte – en dis Stilte wat hom telkens aanmoedig om weer op te staan en te skryf wanneer alles donker voel.
Deesdae vloei stories deur hom soos ’n fontein – ’n stroom van lig, herinnering en verbeelding. Hy woon tans in Johannesburg, waar hy soggens in koffiewinkels sit en mense afluister – net vir inspirasie. As wêreldreisiger het hy mense en hul gewoontes fyn bestudeer, en daarom is sy waarnemings van die mens so uniek en deernisvol.








Krediet aan Pierre Wheeler vir die volgende fotos







Soms het ‘n mens net een woord nodig om die bitter in jou weer soet te maak.
Soms het ‘n mens klomp woorde nodig om die bitter soet te kry.
Dan is daar sommige mense wat tevrede is met net een lepel suiker in hulle koffie.
Die ander mens verkies dalk drie teelepels, opgehoop…
Met tye is die bitter so groot dat net drie suiker-korrels ‘n verskil kan maak.
Dis soos om in die pikdonker van ‘n vertrek te sit en die liggie van ‘n verjaarsdag-kersie op ‘n koek kan die hele vertrek lig maak, maar soms het ‘n mens ‘n paar kerse nodig om lig te gee.
Met die Breinsuiker-boek, blog en website sal daar iewers iemand wees wat dalk net twee woorde saam met hom/haar wil dra. Dalk ‘n hele sin. Die beste is om die hele boek saam te dra.
Sommige gedigte en stories mag donker wees, maar iewers in daardie donker is ietsie soets wat jy kan vat.
Hou aan glo, gooi nog ‘n lepel heuning in jou dink…dit sal altyd soet bly, al is dit bitter.
Moenie dinge te ernstig opvat nie. Vat net ‘n lepel breinsuiker, dan sal jy OK wees.
sal die son ooit uitbrand
wanneer ek my oë toemaak
en salig in die see-sand
vir my ’n lê-nessie maak?
Sal die see ooit oorstroom
wanneer ek in ’n seestroom
ronddryf tot ver in ’n droom
my geliefde blou-blou see?
Sal die maan ooit kaas word
wanneer jy so gou grootword
sonder om my te waarsku
en te sê “ek is nou ’n man”
Sal ek ooit gesond word
wanneer jy agter die volmaan
sit en in ’n blink- knipoog
vir my wink en ’n ster steel?
hoog in die toppe
van ’n mooi boom in
die tsitsikama
het ek ’n voëltjie gehoor
Nuuskierig het ek gesoek
en daar, sowaar, blinkoog
sit die kleine voëltjie en
sing ’n liefdeslied
agter die swartberg en
duskant die karoovlakte
het ek ’n suidoostewind
gehoor fluit, ’n liefdesfluit
iewers op ’n ou plaas
loop ’n voetpad tot anderkant
waar iemand onder ’n windpomp
’n liefdesgedig skryf
waar is die verste horison dan heen
waar kruip die toktokkie weg
waar trommel die miskruier
waar spoeg die oogpister?
Alles is net ’n liefdesgedig
’n liefdeslied
’n liefdes fluit
en liefde vir alles.
dis nou 2:34.15pm
dis asof die son die dink
uit my brein brand, my breinsuiker
oor Tunisia strooi
die kind agter die tralies
se oe wat my met ‘n vraag
gooi…gooi…gooi
en ek bid tot Jesus Christus
en die Moslem vra my om
hom te red uit sy hartseer kyk.
Die son brand nog
stukke breinsuiker uit my brein
en ek vra Die Here God om
dit oor die kind te strooi.
Kind, vat my suiker.
Kind, vat my dink.
Kind, vat my omgee.
Kind, hou vas aan wat jy het.
Kind. Kind. Kind.
En toe knoop daai kind
die groot dink in my los.
Dankie Kind

langs my op die sypaadjie stap die Harlekyn
om my te help lag, sodat gister sehartseer en pyn verdwyn.
Toe verdwyn dit alles, net soos
siemsallabiem…weg is dit.
maak die hek na jou liefde oop
want daar sal jy ‘n trop wilde perde kry,
daar is velde vol buffelsgras,
en ‘n stroompie wat lag.
Maak my hek oop.
In my siel se sideboard
het ek ‘n versie gebêre.
Toe vra ek vir jou om die vir die son te lees.
Jou hart is die son van my somer